10/09/2026
Leesresensie!
– Anita Venter van Niekerk
Die formatering van gedagtes tot woorde en woorde tot papier is ʼn delikate kuns waartoe vele nie in staat is nie – net soos wat almal nie kan swem nie. Die publikasie daarvan, die oorgee aan andere se vooroordele, vrese en wêreldvisies, is gelykstaande aan die waagmoed om oopwaterswem aan te durf. Maar, om ʼn uiters persoonlike weergawe van jou lewe die gedrukte ruimte in te stuur, is om die durf te hê om op water te probeer loop - terwyl die weerlig om jou slaan.
Anita van Niekerk Venter was haar ma se naasoudste in ‘n huis “...konstant op die rand van ‘n ontploffing.” (8). Pa was ‘n dissipel van die drankduiwel, maar, ironies genoeg, haar bron van liefde en behoud. Al moes sy soms die stuurwiel neem wanneer die tiermelk gepraat het: “...’n Elfjarige met ‘n stywe greep op die stuur en ‘n los greep op die reëls.” (32). Sy vroeë dood het haar aan die genade van ‘n ongenaakbare ma gelaat: “My enigste anker, my enigste stukkie liefde is deur ons skewe hekpale weggery.” (51).
Haar ma se blinkskoon huis was ‘n slagyster wat gewag vir ‘n kind met vuil voete of taai vingers, met haar ma as die toediener van genadelose oorveë en vlymskerp woorde wanneer die oortreder op haar radar verskyn. Die negejarige Anita se toevlug was die ou plaasdam – totdat twee seuns en ‘n brutale verkragting dit ook van haar ontneem het. Praat kon sy nie; haar ma se reaksie toe sy die bloed wou afwas, was immers: “Maak daai fokken kraan toe!” (8)
“The body keeps the score” – aldus Bessel van der Kolk, en bevestig deur die skrywer: “My vel kan dit nie help nie; my tone, my hakke, my voetsole onthou steeds alles...” (11) Selfs al gil die binneste, eis die swye van die tong sy tol. In die geval van die skrywer, was daar, veral in die verwysingsraamwerk van haar as kind, weinig opsies: “My stilte was nie ‘n swakheid nie, dit was selfbeskerming. ‘n Kind kan nie skree as harteloosheid in dieselfde huis as die waarheid woon nie.” (2)
Sy moes haar weg baan deur selfvernietigende gedrag, verslawing, en posttraumatiese stres voordat sy op die punt kon kom waar sy kon sê: “Ek is gereed om te praat. Ek móét praat. Nie net namens myself nie, maar vir almal wat steeds swyg.” (6). Dit het egter eers gebeur nadat sy met ‘n skok besef het dat sy emosioneel besig is om in haar ma te verander en dat haar pa se duiwel ook hare geword het.
Hierdie onthutsende memoir is haar verhaal; haar perspektief; interpretasies; en ervarings. Haar waarheid. Die teks ondersoek die aard en grense van vergifnis, die blywende aard van verslawing, die spoke van trauma, herinneringe wat in musiek en reuke kan skuil, en die terugreis na die lig nadat die duisternis vir jare al een was wat haar naam geken het.
Dis nie ‘n “...en toe leef sy vir altyd en altyd gelukkig...”-verhaal nie, inteendeel, sy bely haar konstante weerloosheid: “Sal ek ooit genees? As ek eerlik moet antwoord: nee. Sal ek dalk weer ‘n terugslag hê? Ek bid dat dit nooit weer sal gebeur nie. Dit was hel.” (235). Dis wel die verhaal van leer om volwaardig mens te wees, van selfaanvaarding en van kruip wanneer jy nie kan loop nie.
“Why bother telling your story? Because right now there is someone out there with a wound in the exact shape of your words.” (Sean Thomas Dougherty)