26/06/2026
Blindweg verlief 🦮 Lees nou ’n voorsmakie uit Liefdesdroom deur Bets Smith hier:
Ané de Jongh se nekhare kriewel. Hierdie afdeling van Koch en Vennote se kantoorbestuurder, Morné Koch, is iewers agter haar. Ná drie maande weet sy goed sy kan hom nie eens vertrou as sy hom kan sien nie. Dis veel erger wanneer hy uit die oog maar binne grypafstand is. ’n Vinnige kyk oor haar skouer stel haar tydelik gerus.
In die algemene kantoor drom haar kollegas rondom die teetafel saam, die meeste met die rug hierheen. Ander is reeds uit op die balkon. Die glasafskorting wat sy kantoor van die algemene kantoor skei, weerkaats tot haar spyt nie genoeg detail dat sy Morné se buitelyne kan uitmaak sodat sy kan vasstel presies waar hy is nie.
Toe hy haar ingeroep het, kon sy ook nie voorgee sy is te besig om te gaan nie. Hy het gister reeds laat weet sy moet haar voltooide navorsingsresultate oor die effek van die maatskappy se nuwe advertensieveldtog persoonlik vir hom bring, want hy moes sekere puntjies aan die grootbaas gaan verduidelik.
“Jy is mos nou al oud genoeg om te besef dat jou bevordering in my afdeling afhang van jou samewerking, nè.” Die gedempte woorde kom van skuins agter haar en drup van taai suggestie.
Haar nekhare rys. Hy maak egter nie weer die fout om teen haar te kom staan nie. Die enigste keer wat hy dit gewaag het om haar met sy lyf van agter teen die lessenaar vas te pen, het sy die dun hak van haar skoen byna deur die leer by sy voetbrug getrap. Sedertdien bly hy buite bereik van haar spykerhakskoene.
Vinnig loer sy na haar selfoon, kry die stemopnemer en aktiveer dit. “Wat presies bedoel jy met my samewerking?” Sy laat val die selfoon in haar sak.
“Moet jou nie dom hou nie.”
“Ek hou my nie dom nie, ek wil net mooi weet hoe dinge hier werk.” Sy draai om na waar sy vermoed hy staan.
Hy is egter veel nader en vinniger as waarop sy voorbereid was. “Hier val jy in by hoe ek dinge hanteer.” Voor sy kan wegkoes of keer, lig hy haar roksoom en gee haar ’n geniepsige knyp hoog aan die bobeen, daarna tas hy hoër op voor hy laat gaan.
Instinktief plant sy haar voete stewig, sak in die tipiese skopbokshouding, skiet vorentoe en tref hom met die regtervuis op die kakebeen. Pyn skiet deur haar kneukels tot by haar elmboog. Toe Morné agteroorsteier en vollengte op sy kantoormat neerslaan, besef sy wat sy gedoen het en die moontlike konsekwensies.
🩷 Lees nou hier verder: https://loom.ly/wMo2haM
🩷 Voeg hierdie boek op jou leeslys: https://loom.ly/pfHeh_k