30/07/2026
β€οΈ 'n Daad van Hoop wat harte aangeraak het β€οΈ
As deel van 127 Ons Winkels = 127 Dade van Hoop, was dit vir Ons Winkel Bellville & Parow 'n besondere voorreg om saam met Inceba Swangerskap Sentrum 'n jong mamma en haar 5 maande oue baba te kon ondersteun.
Na afloop van hierdie uitreik het ons die volgende hartroerende boodskap van die span by Inceba ontvang, en ons deel dit met toestemming as 'n herinnering dat elke klein daad van liefde 'n groot verskil maak.
"Baie dankie uit die diepte van ons harte vir hierdie wonderlike gebaar en die geleentheid om een van ons mammas met 'n pakkie te seΓ«n.
Toe Antoinette ons gekontak het, het ons dadelik aan hierdie spesifieke jong mamma gedink.
Haar pad saam met ons het vroeg verlede jaar begin toe sy deur die Thuthuzela Care Centre by Karl Bremer-hospitaal na ons verwys is. Vandag is sy 'n jong mamma wat, ten spyte van moeilike omstandighede, met ongelooflike vasberadenheid werk aan 'n beter toekoms vir haar en haar babatjie. Al het sy reeds 'n maand nΓ‘ haar baba se geboorte teruggekeer skool toe, bly sy toegewyd om haar skoolloopbaan te voltooi.
Sy is 'n stil, introverte jong vrou wat onlangs deur 'n baie donker tyd gegaan het. Dit het ons weer laat besef hoe dringend sy liefde, praktiese hulp en hoop nodig het. Haar eie ma ondersteun haar getrou, en sy woon ons programme by so gereeld as wat haar skoolverpligtinge dit toelaat.
Baie dankie vir julle omgee-harte en dat julle vennote is om 'n lig op haar pad te laat skyn wanneer sy dit die nodigste het.
Hierdie seΓ«n van Ons Winkel Bellville & Parow kom op presies die regte oomblik. Dit gaan vir haar nie net die praktiese uitkomste bied wat sy so nodig het soos klere, skoene, toiletware en 'n stootwaentjie nie, maar dit gaan vir haar 'n kragtige boodskap bring - jy is gesien - jy is belangrik en jy stap nie hierdie pad alleen nie.
Met opregte dankbaarheid en waardering,
Rachelle Grootendorst & Melanie Luus
Inceba Swangerskap Sentrum.
Hierdie boodskap het ons diep geraak. Dit herinner ons dat elke skenking veel meer is as net klere, skoene, toiletware, 'n pram of nappies β dit is 'n boodskap van hoop.β€οΈ
Baie dankie aan Inceba Swangerskap Sentrum vir die ongelooflike werk wat julle daagliks doen. Dit is vir Ons Winkel Bellville & Parow 'n voorreg om saam met julle 'n verskil in ons gemeenskap te maak.