29/01/2017
LADISMITH SE EERSTE ELEKTRIES AANGEDREWE VELDFIETS
Hier is ons eie plan om energie te bespaar. Jy kan trap as jy wil, maar kan ook lekker terugsit en die fiets trap homself.
Jan Ellis van LSM Cycles, of te wel Fatbike West soos sy internet “handle” bekend staan, het hierdie spoggerige nuwe ryding aangeskaf. Dit het ‘n 36Volt elektriese motor ingebou wat jou sowat 50Km laat ry sonder om te trap. Die kontrapsie kom volledig met ‘n Lithium-Ion battery wat binne 2-3 uur gelaai kan word. Dit het boonop drie kragverstellings, ‘n “low-range”, “medium” en “high”, wat my nogal baie aan my eie Landrover laat d**k. Op “high” moet jy glo vasklou vir ‘n vale, dit gebeur soms met die Landy ook. Dan is dit nogal ook ‘n “long-wheel base”, net soos my Landy, om gemakliker te kan ry. Om alles te kroon, het dit selfs ‘n kompas – waarvoor weet ek nou nie juis nie, want my Landy het ook een en ek kon nog nooit waarde daaruit kry nie. Wat help dit ek ry Noord maar ek weet nie waar ek is nie? As dit nou ‘n GPS was kon ek die nut daarvan sien. My Landy sin was fantasties totdat hulle dit gesteel het. Nou vra ek maar net die mense langs die pad. Dit help ongelukkig nie veel hierlangs nie want min mense weet waar hulle is. Seker maar die snaaks weer. Ek weet nie van nog ‘n plek waar dit so warm as die Hel en ook so koud soos die suidpool in dieselfde jaar kan wees nie.
Jan het belowe om vir my ‘n stel “training wheels” aan te sit as ek in een belangstel. Dan kan ek ook die Seweweekspoort aanpak. Sal nog daaraan moet d**k – as iemand tog net my Landy wil koop.