28/09/2026
Fanus Rautenbach: Die president van Flinkveria - die wakkerword-program wat die volk geleer het om te lag, met die leuse "Humor regeer".
Fanus Rautenbach (23/09/1928 – 29/01/2011) het homself nie beskou as 'n grapmaker of grapjas nie, maar as 'n humoris. Hy is die skrywer van radiovervolgverhale, dramas en romans, asook 'n verjaardagboek*.
Dié woordemaker het geglo dat jy nie net woorde uit Engels vertaal nie, maar eerder nuwe woorde moet skep. Hy het 'n Artes-toekenning vir "Die Hemelkinders" (1980) ontvang. Sy bekendste programme was sekerlik "Flink uit die vere" en "Staal Burger".
Fanus is in 2007 met 27 000 stemme aangewys is as die radiolegende van die afgelope 70 jaar.
Gedurende die eerste paar jaar van sy loopbaan is die Republiek van Flinkveria gestig met Fanus as president en sy gereeldste inbellers as kabinet. Die leuse van Flinkveria was: "Humor regeer."
"Flink uit die Vere" het deel geword van meer as 500 000 luisteraars se daaglikse roetine. Dié gewilde program met sy "Penniefluitjie-kwêla" eindig op 28 Junie 1974, dertien jaar ná die eerste uitsending.
Prof. Anna Neethling-Pohl het Rautenbach gevra om 'n jeugvervolgverhaal te skryf met die naam van 'n held in die titel. Só het Staal Burger ontstaan.
Fanus is ook 'n liriekskrywer: "Jy naby my" soos gesing deur Louis van Rensburg; die refrein van Randall Wicomb se "Kopersmid"; Leon Schuster
se "Water op sy knieë"; "Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein", wat Anton Goosen bekend gemaak het, en die vertaling van Jacques Brel se "Ne me quitte pas" (Moenie weggaan nie), die lied gesing deur Laurika Rauch.
Rautenbach is op 23 September 1928 op Lichtenburg gebore. Hy het ná Normaalkollege op Groblersdal gaan skoolhou as Afrikaans-onderwyser en het begin stories skryf vir Huisgenoot, Sarie en Rooi Rose onder die skuilnaam Fanus Bach. Rautenbach het Pretoria toe getrek om as draaiboekskrywer by KARFO te begin werk. Daarna het sy roemryke loopbaan as radioman begin.
Ons salueer Fanus Rautenbach, die president van Flinkveria!
Blouwillem Theron het tydens 'n glansgeleentheid op Saterdagoggend 15 November 2025 by NALN, hulde aan Fanus Rautenbach gebring .
[Berig: A. Diedericks]
Kontak die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN): [email protected]
Grafika: My City Bloemfontein