09/10/2026
Nie net as jou vrou, business partner, beste vriend en sielsgenoot nie, maar ook as jou grootste ondersteuner en bewonderaar…
Hanroe, ek kan nie méér trots op jou wees nie! ❤️
Om hierdie woorde te lees, laat my hart sommer oorloop, want dit is só waar, só gepas en só tipies van wie jy is. Ek is seker ek praat namens baie wanneer ek sê dit is meer as ’n voorreg om te kan sê ons ken jou. Ons kry die geleentheid om saam met jou hierdie pad te stap, om jou opgewondenheid én uitdagings te deel, en om deel te wees van die storie wat jy leef en skryf.
Ek is ongelooflik trots op jou. Jy het nooit opgegee op hierdie droom nie. Jy het aangehou glo, aanhou werk en aangehou droom, selfs wanneer die pad nie altyd maklik was nie. En nou, hier is dit… uiteindelik! 🥹❤️
Ek kan nie wag dat mense deur hierdie ongelooflike platform die geleentheid kry om ’n klein stukkie van jou te beleef nie. Om iets van jou passie, jou kennis, jou talent en die mens agter dit alles te sien. As hulle net ’n klein bietjie kan ervaar van die Hanroe wat ek elke dag ken, weet ek hulle gaan verstaan hoekom hierdie droom so besonders is.
Dankie, Kokkedoor Klassiek, dat julle hierdie platform skep, talent ’n kans gee en ons die voorreg gun om saam in hierdie stories te kan deel.
En Hanroe Erasmus… mag hierdie net die begin wees van alles wat nog vir jou voorlê. Ek sal altyd hier wees om jou aan te moedig, saam met jou te droom en jou te herinner aan hoe besonders jy is. ❤️
𝐇𝐚𝐧𝐫𝐨𝐞 𝐄𝐫𝐚𝐬𝐦𝐮𝐬 | 𝐊𝐢𝐧𝐤𝐞𝐥𝐤𝐨𝐤
𝐎𝐮𝐝𝐞𝐫𝐝𝐨𝐦: 45
𝐕𝐚𝐧: Secunda, Mpumalanga
𝐁𝐞𝐫𝐨𝐞𝐩: Sjef en mede-eienaar van Genade Shoppie
Hanroe Erasmus se kombuis-ervaring strek van hotelle in Gauteng tot The Palace by Sun City, waar hy as hoofsjef gewerk het. Ná meer as twintig jaar in die bedryf is daar steeds dinge wat hy aan homself wil bewys. 𝐾𝑜𝑘𝑘𝑒𝑑𝑜𝑜𝑟: 𝐾𝑙𝑎𝑠𝑠𝑖𝑒𝑘 bied hom ’n nuwe uitdaging en ’n kans om sy kreatiwiteit te wys.
Hy moes lank vir dié droom wag. Hy het voorheen ingeskryf, maar moes weens sy vrou se gesondheid onttrek. Nou kry hy weer die geleentheid om daardie plan aan te pak. Vandag bedryf hy en Kirsten die Genade Shoppie in Secunda, waar sy jare se professionele ervaring ’n ander tuiste gevind het.
By die huis is hy pa van Tauri en Rhylan. Hy beskryf homself as iemand wat met toewyding man, pa en sjef probeer wees. Sy liefde vir kook kom van kleintyd af, met sy ma, Estelle, en ouma, Hannah, wat hom aangemoedig het om daardie belangstelling te ontwikkel.
Wanneer die voorskoot afkom, geniet Hanroe dit om in die see te gaan hengel. Hy skiet ook graag teiken met ’n pyl en boog. Dié belangstellings bied ’n welkome afwisseling van die kombuis.
Die gereg waarmee hy homself vergelyk, is ’n potjie: eenvoudig van buite, maar met talle lae binne. Sy persoonlikheid kan sterk na vore kom, erken hy, en daarom waardeer hy ’n spanmaat wat ’n mening durf gee en hom tot orde kan roep wanneer dit nodig is.
Onder druk bring Hanroe rustigheid en die vermoë om probleme op te los. Hy hoop kykers onthou die verbeelding in sy kos en leer ook die mens agter die sjef ken.