08/08/2026
So lyk ‘n vrou deur Ilse Verster
Ek is bang om iets oor hierdie boek te skryf. Bang ek maak skade, bang ek besorg iemand seer of krap aan wonde. Maar hierdie boek is nodig. Dis nodig vir álle vroue, nee, álle mense om te lees. Die voorblad alleen is skokkend: ‘n emosielose vroulike oog, maar dis potblou geslaan. Versplinterde glasskerwe verberg haar gesig. Die brokstukke is bloue en dieprooi. Die voorbode van groot ellende.
Esli is vir meer as veertig jaar deel van Bart se lewe. Die volgorde is met opset: Bart was nie deel van haar lewe nie. Sy het deel van sy lewe geword, want in Bart se lewe maak net hy saak. Bart, die aantreklikste ou in matriek, die grootprater, die narsis, die alkoholis, die geweldenaar. Bart wat haar eens uit haar vel kon soen, slaan haar later uit dieselfde vel. Haar huis, waar min mense die waarheid ken, is nie ‘n tuiste nie, maar ‘n oorlogsone waar sy verneder, verniel en verbaal, finansieel en fisies mishandel word.
Vir buitestaanders is dit moeilik om te verstaan hoe iemand hierdie tipe mishandeling aanvaar. Dis maklik om te oordeel, apaties te staan, siende blind of horende doof te wees. Buitestaanders vra baie vrae en die spreker beantwoorde hierdie vrae. Dis asof Esli deur die trauma en mishandeling eerstehandse kennis opbou en dit self beantwoord. En eindelik te bowe kom.
Die spreker is Esli, die skrywer is Ilse. Dis ‘n memoir, ‘n lewensvertelling. Die woordspeling tussen Esli en Ilse is vir my sprekend van die introspeksie, die eindelike oorwinning. Maar ook van die heelwording.
Hierdie boek slaan jou wind uit – en die leser voel as’t ware die skoppe en houe saam met Esli. Sy draai geen doekies om nie en deel die gevolge van narsisme en alkoholisme op Bart het: diabetes, later Alzheimers. Dit delf diep in die effek wat die vernedering en mishandeling op slagoffers het.
Ek beveel aan dat hierdie boek saam met die opvolg, ‘n Vrou staan op deur dieselfde skrywer, gelees word. In teenstelling met die eerste boek is die een se voorblad veelkleurig, die vrouegesig is egter steeds deels verberg deur brokstukke glas. Die deel van die gesig wat duideliker sigbaar is, verberg deur blou glas. Blou glas want die skade verdwyn nie saam met die kneusplekke nie. Dalk lees ek te veel in die grafika van die voorblaaie, dalk is dit so bedoel.
Die opvolg is die verhaal van hoop. Maar dis ook ‘n verhaal van ontnugtering en die gevolge van langdurige trauma. Die boek skop jou op ongemaklike plekke, nes die voorganger. Weereens word nie waarheid kaalvuis vertel. Slagoffers stap nie weg en alles is vergete nie. Die tentakels van angs, depressie, PTSS (Post-traumatiese stressindroom) en skuldgevoelens strek wyd en ver. Dit slaan onverwags en fel toe.
Met Vrouedag wat more gevier word, is hierdie twee boeke die regte leeskeuse. Vroue moet mekaar ondersteun, onderskraag en bo alles mekaar raaksien. Ons mag nie stilbly nie. Ons mag nie wegkyk nie. Ons mag nie dat daar nog een enkele Esli wees nie. Nes 20 000 vroue op 9 Augustus 1956 soos een vrou opgeruk het teen onreg, net so moet ons soos een vrou saamstaan om mekaar te beskerm.
Hierdie boeke kan by my bestel word.
R280 elk was R320
Melanie
063 775 0387
Ek lees vandag vir Esli. Wat lees jy?