28/07/2026
DEUR SY ARMOEDE HET ONS RYK GEWORD
“Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.” (2 Kor. 8:9)
Onse Here Jesus Christus was ryk, sê die Apostel, en Hy het ter wille van ons arm geword! Het ons enige begrip van wat dit beteken dat Hy ryk was? Paulus d**k aan die heerlikheid wat Hy by die Vader gehad het voordat die wêreld daar was. Hy spreek ook self daarvan in sy hoëpriesterlike gebed. Wat was dié heerlikheid? Dit was dat Hy een was met die Vader, een met die Vader in die skepping en onderhouding van die heelal. D**k daaraan, die heelal, “dieptes van die hemele,” soos ’n digter dit uitdruk. Hy het alle dinge besit, tydelik en geestelik. Wat ’n heerlikheid! Wat ’n kennis, wat ’n almag, wat ’n oneindigheid, wat ’n grondelose barmhartigheid!
En Hy het arm geword, alles opgegee! Arm geword ter wille van ons. Die Besitter van alles het arm geword, mens geword, nie ’n engel nie, maar ’n mens, en bowendien ’n arm mens. Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar Hy het geen plek gehad waar Hy sy hoof kon neerlê nie. Toe Hy gekruisig is, het Hy net maar sy klere gehad en die kleed waaroor die soldate geloot het. Hy het arm geword! Ons kan ons dit nie voorstel hoe arm Hy geword het nie! Ons is arm, nakend, blind, onbeskryflik arm, verlore, dood. Hy het in ons armoede gedaal om ons te red en daaruit op te haal, en dit om ons ryk te maak met ’n rykdom wat by geen aardse skatte gewaardeer kan word nie: die ewige lewe. Hoe ryk het ons geword!
/SolidariteitHelpendeHandMpumalangaLaeveld-enKZNNoord-Streek