29/08/2025
Die nuwe uitgawe is al beskikbaar by The Cozy Shed
Die lente was eintlik vroeg hierdie jaar met die blomme wat reeds in Julie hul verskyning in die Namakwaland kom maak het. Ons nuwe Platteland-uitgawe is slegs 'n paar tree agter — propvol nuwe idees en dorpe om te verken sodra die byt in die lug dit toelaat.
Ons kuier en verken Kenhardt, ’n regte plaasdorpie in die woestyn waar, as jy eers begin kuier, jy nie kan wegkom nie. Mia Louw Creative wys ons die mooiste uitsig in die omgewing van Uitsig naby Mbombela, waar makadamiaboerdery hand aan hand gaan met die uitdagings van die bosveld. Twee skrywers, Zelda Nel Bezuidenhout en , vertel van die plekke waarheen hulle gaan om te skuil en weer inspirasie te vind vir hul woorde.
maak ’n draai op Rietbron, waar die sonsondergange besonders is en die winkels maar skaars. Ons gesels met Bennie Engelbrecht, wat met “rooigoud” (saffraan) duskant Piketberg boer, en met Wandile Khave en die veearts Johan van Rooyen, wat merkwaardige werk doen duskant Steynsburg om boerderybeginsels en -beplanning na vore te bring wat beide mens én dier baat.
En dan is daar die besonderse storie van Sibusiso Mogale, ’n voormalige paralimpiese atleet wat sonder hande en voorarms gebore is en vandag sy eie kool, mielies en spinasie in Kabokweni met sy tone plant. Hierdie boer maak meer as net 'n plan - hy werk slimmer; nie harder nie!
Daar is genoeg rede om die natuur hierdie seisoen te vier: ons vertel jou van die nuutgestigte Avontuur-natuurreservaat buite Nieuwoudtville; deel omgewingsvriendelike blomkuns; neem jou weer na Kirstenbosch — een van die wêreld se toptuine — en wys jou hoe om jou eie snyblomtuin te begin.
Boonop vertel ons van die gesondheidsvoordele van propolis, Warren Mendes gee vir ons ’n voorsmakie uit sy nuwe resepteboek Food Trail South Africa (net betyds vir Braaidag!), en Ina Paarman deel ’n varknekresep vir die ketelbraai.
En terwyl die dae effe warmer raak, sluit ons af met verhale oor boekgesprekke op die platteland én die son wat sak oor Gordonsbaai.
Die nuwe Lente-uitgawe van Platteland wag net op jou — propvol stories wat jou sal inspireer, motiveer en jou hande en voete sal laat jeuk om die stadige lewe dalk hierdie seisoen jou eie te maak.
(English translation in comments)